Nelspruit. – ’n Skaapdief gaan ook van dieremishandeling aangekla word nadat 16 van die 20 gesteelde skape wat hy in ’n Toyota Tazz geprop het, gevrek het.

Kol. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie was gister omstreeks 08:00 op patrollie in Lothair naby Ermelo toe hulle die luikrug-motor raaksien.

“Hulle het die voertuig voorgekeer en gesien dat al die passasiersitplekke uitgehaal is om plek te maak vir die 20 skape.”

16 van hulle was reeds dood.

“Die bestuurder kon geen vervoerpermit of bewys van aankoop toon nie,” het Hlathi gesê.

Die beskuldigde, wie se naam nog nie bekend gemaak is nie, is na die polisiekantoor geneem en tydens ondervraging is bepaal dat hy die skape op ’n plaas in Lothair gesteel het.

“Die man het daardie skape soos brood ingepak en gedink hulle sal aan die lewe bly,” het Hlathi gesê.

Jaco Klopper van Mpumalanga Animal Crime Watch het gesê dit is ’n onmenslike daad.

“Dit is heel moontlik die wreedste ding wat jy ’n dier kan aandoen.

“Ek hoop hy kry die swaarste straf moontlik,” het Klopper gesê.

Die beskuldigde verskyn vandag in die hof. – Adele du Toit

MACW 20 sheep in a tazz